Die kalf se ligging is ongunstig.
Die normale posisie vir geboorte is wanneer die kalf met die voorpote ongeveer tien tot vyftien cm voor die neus lê. Die voorpote en die neus vorm 'n wig wat die serviks geleidelik verwyd en so die afskeiding van oksitosien bewerk. In 'n klein persentasie van gevalle word kalwers agterstevoor gebore, maar in dié gevalle is die agterpote gewoonlik na die koei se voorkant gedraai en is 'n persoon met baie ondervinding nodig om die kalf te verlos.
Die algemeenste abnormale liggings is wanneer die kop en nek na agter gedraai is (sien skets hier onder), of waar een of beide van die voorbene na agter strek. Tensy die herstel van die ligging van die kalf se pote of kop baie vroeg tydens kalwing geskied, kan dit baie moeilik wees om reg te kry
en is 'n keisersnee in die geval van 'n lewendige kalf of die opsny van die kalf wat reeds dood is die voorland. Met die manipulasie van die kalf druk die koei gewoonlik met al haar mag en is dit dikwels nodig om die baarmoeder te verdoof ten einde iets te bereik.
 |
| Die fetus se kop en nek is sywaarts gedraai |
Prolaps van die serviks.
Koeie met baie los vel en groot genitalieë is geneig om die serviks uit te druk, veral as daar een of ander irritasie in die vagina is, byvoorbeeld met blaasontsteking. Dit skep 'n groot probleem, want indien die koei nie naby kalwing is nie, moet die serviks teruggesit word en steke ingesit word. Die koei moet baie fyn dopgehou word en die steke verwyder word sodra sy begin kalf. As die serviks weer uitkom, word 'n epidurale inspuiting gegee sodat die serviks eers teruggedruk kan word voordat die kalf baie versigtig getrek word. Die serviks en selfs die baarmoeder kan na die geboorte net so maklik uitdruk en daarom word voorkomende steke ingesit na die verlossing van die kalf.
Wanneer moet ek hulp soek?
Aangesien die oorgrote meerderheid van diere normaal kalf, moet daar 'n redelike tyd toegelaat word om te sien of die koei of vers self sal regkom. 'n Goeie riglyn is ongeveer vier ure in geval van verse en ongeveer 'n uur en 'n half by volwasse koeie. Indien dit lyk of daar nie vordering is nie, moet 'n ervare persoon met deeglik gewasde hande die dier inwendig ondersoek om te bepaal wat die situasie is. As die persoon hom vergewis het van die ligging van die kalf kan hy/sy die kalf probeer uittrek. Vlekvrye staalkettings veroorsaak baie minder skade aan die kalf se pote as toue. Dit is baie belangrik dat die een pootjie 'n paar sentimeter voor die ander een is wanneer getrek word, sodat beide skouers, of in die geval van die agterpote, beide heupe nie gelyk deur die bekken beweeg nie. Daar behoort net getrek te word wanneer die koei druk. Die welsyn van die koei en kalf is hier geweldig belangrik en sover moontlik behoort die diere nie onnodig te ly nie. Indien die hulp van twee of drie persone nie sigbare vordering bewerk nie moet professionele hulp ingeroep word.
 |
| Skouers wig vas met gelyktydige trek van voorbene |
Smering van die vagina en die kalf is uiters belangrik! Daar is geen smeermiddel so doeltreffend soos die natuurlike slym deur die nageboorte geproduseer nie en dit is een van die redes hoekom 'n mens nie te lank moet talm nie. 'n Ontsmettende seep is 'n redelike goeie alternatief, maar genoeg moet aangewend word en herhaal word sodra dit nodig word.
Die voorkop van die kalf bied gewoonlik die meeste weerstand en haak dikwels vas voor die bekkeningang en selfs by die vulva (skaamspleet). Pasop dat die vulva nie skeur nie, want 'n skeur tot in die anus kan die koei se reproduksietoekoms 'n lelike knou gee. Die heupe gee ook dikwels probleme en daarom word aanbeveel dat die kalf se lyf sowat 45 grade na enige kant gedraai word sodra die kop uit is. Hierdie stap verseker dat die breedste deel van die heupe (tussen die draaibene) nie in die nouste deel van die bekken (reg horisontaal) beland nie.
 |
| Heupe wig vas as agterpote gelyk getrek word en kalf nie 45 grade gedraai is nie |
Indien die persoon nie enige vordering maak binne 20 tot 30 minute nie, moet die hulp van 'n veearts ingeroep word. Geen veearts sal omgee om 'n vars kalwing te doen nie, maar dit is uiters frustrerend om 'n droë, onwelriekende kalf te probeer uithaal nadat iemand reeds 'n paar uur of selfs 'n dag lank gespook het. Die meeste kere is dit net daardie ekstra bietjie ondervinding wat die deurslag gee.
Bokant van blad | Probleme tydens kalwing
Agtergeblewe nageboorte.
Indien die nageboorte nie binne twaalf ure na kalwing loskom nie, word dit as agtergeblewe beskou. Hierdie toestand is nie naastenby so ernstig soos by mense of perde nie, maar dit verdien nogtans aandag. Die algemene toestand van die koei gee 'n indikasie van die dringendheid waarmee 'n agtergeblewe nageboorte benader moet word. Indien die koei lusteloos voorkom en nie wil vreet nie, word dit in 'n ernstiger lig gesien as wanneer sy nog op-en-wakker lyk.
Dit is uiters belangrik om 'n agtergeblewe nageboorte met handskoene aan te raak — deur onbeskermd daaraan te vat kan 'n persoon Besmetlike Misgeboorte (Brusellose) opdoen. Hierdie siekte is baie onaangenaam en moeilik om te behandel dus is voorkoming van die allergrootste belang. Deur die deel van die nageboorte wat buite hang om en om te draai en tegelykertyd baie versigtig daaraan te trek word gepoog om dit te verwyder. Dit is baie belangrik dat die nageboorte nie afbreek met hierdie hantering nie. Indien die nageboorte nie met die eerste probeerslag loskom nie, plaas steekpille volgens die vervaardiger se aanwysings so diep as wat u kan in die baarmoeder. Die gebruik van 'n spesiale toediener is die beste manier om dit te doen. Die volgende dag kan weer gepoog word om die nageboorte te verwyder, maar indien u enigsins twyfel skakel gerus u veearts vir hulp.
Antibiotika behoort toegedien te word indien die koei enigsins siek vertoon. Dit is altyd beter om dieselfde of 'n soortgelyke antibiotikum te gebruik as wat in die steekpille voorkom. Sodoende kan die produkte enige moontlike infeksie saam beveg. Skakel gerus u veearts indien u enigsins oor die behandeling twyfel.
Prolaps van die serviks of baarmoeder.
Hierdie komplikasie moet altyd in 'n ernstige lig gesien word, veral as die hele baarmoeder buite hang. Die baarmoeder word onderskei van die nageboorte deurdat dit baie meer solied is, aanvanklik pienk of rooi vertoon en 'n groot massa behels, groter as 'n rugbybal en selfs groot genoeg om 'n groot emmer te vul.
Spoedige optrede is hier van die uiterste belang — indien een van die groot bloedvate (tot sowat 2,5cm in deursnee!) gesny word, kan die koei binne minute doodbloei. Die baarmoeder se are word toegedruk en swelling vorder baie vinnig totdat die massa drie keer en meer geswel is. Hoe meer die baarmoeder geswel is, hoe moeiliker is dit om terug te plaas.
So gou die prolaps opgemerk word, moet die baarmoeder met louwarm soutwater afgespoel word en sodra dit skoon is, met 'n nat handdoek bedek word om verdere besoedeling te verhoed. Die hulp van 'n veearts moet dadelik ingeroep word! Hierdie komplikasie vereis professionele kennis, baie geduld en nogmaals geduld. In 'n klein persentasie van gevalle is daar boonop ingewande in die prolaps of skeure in die baarmoederwand wat die situasie nog verder kompliseer.
Skeur van die baarmoeder.
Hoewel die baarmoederwand baie sterk is, kan dit skeur as oormatige kragte daarop inwerk, of as dit deur infeksie of verlaagde bloedtoevoer verswak is. Indien die baarmoeder skeur terwyl die kalf nog binne die baarmoeder is, vereis dit gewoonlik 'n keisersnee. Indien die kalf wel gebore word, hang dit af waar die skeur is — indien dit aan die onderkant van die baarmoeder is, is dit baie gevaarliker, aangesien die baarmoederinhoud dan in die buik kan uitlek en ernstige buikvliesontsteking kan veroorsaak.
Indien die skeur aan die bokant van die baarmoeder is, is die kanse op herstel beter, aangesien die gewig van die baarmoeder die skeur tot 'n mate toetrek. In ieder geval is die aandag van 'n veearts noodsaaklik, maar soms is slag ongelukkig die enigste uitweg.