Dr W J Grobler BVSc.
Die naam Katgriep is baie misleidend aangesien die siekte nie van katte na honde kan versprei nie, hoewel katte ‘n soortgelyke siekte kan opdoen. Verder word die dermkanaal aangetas en nie tipiese griepsimptome gevind nie. Die siekte kom meer algemeen in droeë, winderige toestande voor en tas hoofsaaklik jong honde aan, hoewel enige hond wat nog nie blootgestel was aan die virus nie, kan siek word. Selfs met die beste behandeling is daar 'n persentasie diere wat nie herstel nie en is inenting dus geweldig belangrik in die voorkoming van die siekte.
Hierdie ernstige siekte word deur een van die kleinste siekte-organismes bekend veroorsaak — ‘n virus met die naam Honde Parvovirus (Parvo beteken klein) Die virus is so klein dat ongeveer 300 duisend langs mekaar in ‘n millimeter pas!
Ten spyte van die virus se grootte is dit een van die taaiste virusse — onder gunstige omstandighede kan dit tot 2 jaar in die omgewing oorleef. Die virus kan selfs op ‘n persoon se skoensole gedra word en dit is ook die wyse waarop die siekte in 1978 binne ‘n paar maande regoor die wêreld versprei het.
Geweldige groot getalle virus word in die braaksel en mis van siek diere aangetref. Een gram mis bevat genoeg virus om meer as 10 miljoen honde aan te steek!
Die virus benodig sekere ensieme wat net in vinniggroeiende selle voorkom. Die selle aan die binnekant van die dermkanaal groei geweldig vinnig, soveel so dat die binneste lagie van die dermkanaal elke twee tot drie dae vervang word. Namate die virus in hierdie selle verdeel word die selle vernietig en ontstaan groot areas van beskadigde slymvlies waardeur liggaamsvloeistowwe en selfs bloed sypel en bakterieë wat normaalweg onskadelik is die liggaam binnedring.
Die simptome verskyn gewoonlik skielik en honde kan binne ‘n paar uur doodgaan. Diere wat wel teenliggame het teen die virus sal die siekte in ‘n ligter graad opdoen. Hoewel dit deesdae selde gebeur, kan die virus die hartspier aantas met noodlottige gevolge.
Tewe met goeie weerstand dra teenliggame
oor aan die fetusse in die baarmoeder.
Hierdie weerstand sal die meeste klein hondjies vir ‘n tydperk van ses tot twaalf
weke beskerm, maar ten einde daarna beskerm te wees moet die diere tydens
hierdie periode blootgestel word aan die
virus. Dit is daarom van die uiterste belang
dat gesonde hondjies soos die outjie langsaan op ses weke teen die siekte
ingeënt word en vier weke daarna ‘n
skraagdosis (booster) ontvang.
Op hierdie stadium bestaan daar nie
vrylik beskikbare middels wat virusse
doodmaak nie en word die behandeling
dus slegs daarop gemik om ontwatering te beperk en om bakterieë wat die
derm verder beskadig in toom te hou.
Dit bly een van die frustrerendste probleme waarmee die veearts te kamp het, alhoewel baie goeie entstowwe beskikbaar is. Baie moeite en verdriet kan voorkom word as honde-eienaars net hul diere betyds laat inent.
Daar is huidiglik geen goedkoop inspuitbare middels wat virusse in die liggaam doodmaak nie, dus is daar geen spesifieke behandeling as die virus eers in die liggaam is nie. Die behandeling behels daarom die onderdrukking van bakterieë in die dermkanaal, voorkoming van braking en die herstel van die voginhoud van die liggaam.