Nuwe entstof teen bosluiskoors!

Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. BESKRYWING
  3. AANBEVOLE GEBRUIK
  4. TEKORTKOMINGE
  5. OPSOMMING

1. INLEIDING

Gedurende Augustus 2008 is 'n entstof teen Bosluiskoors in honde in Suid-Afrika bekendgestel. Hierdie langverwagte geleentheid is met ope arms deur die kleindierveeartse van Suid-Afrika verwelkom. Alhoewel dit nie al ons probleme gaan oplos nie, is dit 'n groot stap in die regte rigting om Bosluiskoors se beheer te vergemaklik.



2. BESKRYWING

Geen bosluiskoorsorganismes word in die entstof gebruik nie, maar wel molekules (Oplosbare parasietantigene (OPA), oftewel SPA in Engels) wat deur die parasiete gevorm word tydens seldeling. Dit is dan ook hierdie OPA-molekules wat grootliks verantwoordelik is vir al die komplikasies wat met Bosluiskoors ervaar word. Die OPA's van beide die Europese en Afrika-parasiete is in die entstof ingesluit.


3. AANBEVOLE GEBRUIK

Huidiglik word die entstof nie aanbeveel in diere jonger as ses maande of dragtige tewe nie. Die entstof moet ook vermy word in diere met hoë bosluisladings, in siek diere en dit moet ook nie binne twee weke voor of na ander inentings toegedien word nie.

Die eerste inenting word opgevolg 'n maand later met 'n skraagdosis. Die entstof word daarna elke ses maande herhaal vir optimale doeltreffendheid.



4. TEKORTKOMINGE

Die entstof kan matige newe-effekte in sommige diere verwek soos swelsels by die inspuitplek, koors en styfheid. Hierdie simptome is maklik behandelbaar en glad nie gevaarlik vir die hond nie. Sommige honde ontwikkel steeds bosluiskoors, maar die simptome is gewoonlik gering, maklik behandelbaar met die gewone middels en gekompliseerde gevalle word baie selde indien ooit nog gesien in geënte diere. Die grootste struikelblok vir alledaagse gebruik van die entstof is ongelukkig die koste: inenting sal ongeveer drie keer duurder wees as die gewone inenting teen Hondesiekte en Katgriep.

Vir die besorgde honde-eienaar vir wie die welsyn van sy/haar hond swaarder weeg as een keer se uiteet saam met vriende is hierdie entstof egter van onskatbare waarde!


5. OPSOMMING

Bosluiskoors is in baie gevalle 'n dodelike siekte, maar in die meeste gevalle kan vroegtydige optrede 'n groot verskil maak. Met hierdie inenting is daar nog 'n wapen in die arsenaal van honde-eienaar en veearts beskikbaar om onnodige lyding te voorkom. Kontak u plaaslike veearts gerus vir meer inligting.


Erkenning:

Fig 1,2: Intervet Schering-Plough Animal Health