Bosluiskoors by katte

Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. SIMPTOME
  3. DIAGNOSE
  4. BEHANDELING
  5. VOORKOMING
  6. OPSOMMING

1. INLEIDING


Bosluiskoors van katte kom wreldwyd slegs in Suid-Afrika op 'n gereelde basis voor en wel aan die kusstreke van veral die Suid-Kaap, maar ook die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die vermoede bestaan dat die siekte deur bosluise oorgedra word, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Bosluiskoors word deur 'n eensellige organisme genaamd Babesia felis veroorsaak. Hierdie organismes is slegs 1 tot 2 duisendstes van 'n millimeter groot. Hulle dring die kat se rooibloedselle binne waarna hulle verdeel en so bloedarmoede verwek.


2. SIMPTOME

Dit is hoofsaaklik katte jonger as drie jaar wat siek word. Anders as by ander diersoorte, wys die meeste katte met bosluiskoors nie 'n koorsreaksie nie. Eienaars meld meestal lusteloosheid en verlies aan eetlus aan as redes vir die inbring van siek katte.

Met ondersoek word bloedarmoede algemeen gevind, terwyl geelsug ook dikwels voorkom. Minder algemene simptome sluit in konstipasie, swakheid en pika (die neiging om aan voorwerpe te kou). By katte is bosluiskoors 'n chroniese siekte en baie diere wys min simptome totdat die siekte redelik ver gevorder het.

Ander siektes soos Katleukemie en KatVIGS kan ook saam met bosluiskoors voorkom. Hierdie siektes word vermoed wanneer katte ouer as drie jaar die siekte opdoen, of wanneer hulle met 'n koors presenteer.


3. DIAGNOSE

'n Veearts neem gewoonlik 'n bloedsmeer om bosluiskoors te bevestig. Die organismes is baie klein (sowat 800 pas in 'n millimeter!), maar kan baie duidelik teen 'n duisend maal vergroting onder 'n mikroskoop gesien word. Tekens van nuwe bloedselvorming is gewoonlik ook duidelik te sien en soms word ander bloedparasiete ook gelyktydig waargeneem. Die bloed behoort ook getoets te word vir afbraak van die rooibloedselle deur die liggaam self, 'n komplikasie wat minder algemeen by katte as by honde voorkom.

Bloedtoetse om kompliserende virusse uit te skakel is aangedui wanneer hierdie siektes ook vermoed word, want dit sal die uitkoms van behandeling drasties benvloed.


4. BEHANDELING

Daar is slegs een middel wat bewese effektiwiteit teen bosluiskoors van katte besit. Dit word in tabletvorm toegedien met drie dae tussenposes vir die eerste drie behandelings en dan weekliks vir nog drie behandelings.

Indien ander bloedparasiete ook voorkom, word 'n daaglikse antibiotikum vir drie weke bygevoeg. Kortisoon word toegedien indien die kat sy/haar eie rooibloedselle afbreek en 'n opbouende dieet word voorgeskryf in die herstelperiode wat etlike weke kan duur.

Indien die bloedarmoede baie erg is, gewoonlik wanneer die dier minder as 'n derde van sy rooibloedselle oorhet, word 'n bloedoortapping gegee. Anders as by honde kom oortappingsreaksies gereeld by katte voor, dus moet die versoenbaarheid van skenkerbloed getoets word.


5. VOORKOMING

Katte wat besoek aan die kus afl moet spesiale beskerming teen bosluise geniet en liefs nie toegelaat word om rond te loop nie. Vir ekstra veiligheid moet 'n langwerkende bosluismiddel aangewend word ten minste een week voordat die bestemming bereik word. Diere wat lusteloosheid toon binne drie weke na 'n besoek aan die kus moet onmiddellik veeartsenykundige aandag kry.


6. OPSOMMING

Alhoewel dit nie algemeen voorkom nie, is bosluiskoors 'n belangrike oorsaak van bloedarmoede in katte. Indien dit vroegtydig gediagnoseer word, kan dit suksesvol behandel word in die oorgrote meerderheid van gevalle, veral indien dit nie saam met Katleukemie en KatVIGS voorkom nie.


Erkenning:

An Update on Feline Babesiosis T Schoeman B L Penzhorn Vetnews April 2008