Beesvirusdiarree en mukosasiekte

Dr G Gaigher BVSc

INLEIDING

Die virus van beesvirusdiarree (BVD) kom vermoedelik wydverspreid by beeste voor, maar veroorsaak slegs sporadiese probleme. Dit word oorgedra deur neusafskeidings, speeksel, mis, uriene en bloed of deur kontak met besmette voorwerpe. Dit dring deur die neus of die mond die liggaam binne en vermenigvuldig in die dier se liggaam.


OORSAAK

Daar is twee tipes virus wat voorkom :

  1. Die sitopatogeniese virus wat aborsies, resorpsies of fetusmisvorming by dragtige beeste veroorsaak.
  2. Die nie-sitopatogeniese virus wat veroorsaak dat koeie wat in die eerste derde van dragtigheid besmet word, geboorte gee aan kalwers met blywende infeksies (Eng: "persistently infected" of PI ).
Indien hierdie kalwers later aan die sitopatogeniese virus blootgestel word, sal 'n sindroom genoem mukosasiekte (Eng: "mucosal disease" of MD) gepresipiteer word. Beeste wat deur MD geaffekteer word sal 'n verlies aan eetlus toon en sal sere in die bek en buikloop ontwikkel. Die BVD-virus kan ook met ander virusse en Pasteurella haemolitica bydra tot die ontwikkeling van respiratoriese siekte in beeste in voerkrale.


SIMPTOME

Die mees algemene simptome is :

1. Reproduksie.
Die simptome wissel van embrionale verlies tot aborsie of die geboorte van 'n swak kalf. Kalwers kan gebore word met 'n onderontwikkelde kleinbrein (serebellum) wat gebrek aan koördinasie tot gevolg het (Fig. 1 en 2).
2. Swak kalf sindroom.
Hulle is gewoonlik kroniese draers, groei nie goed nie en vrek maklik van longontsteking of diarree.
3. Akute BVD.
Dit vind plaas in kuddes wat nog nooit aan die siekte blootgestel was nie. Simptome is koors, neusuitloopsel, afname in melkproduksie en diarree. Alhoewel baie diere aangetas word, is daar min vrektes.
4. Respiratoriese siekte.
As gevolg van immuunonderdrukking word diere meer vatbaar vir longontsteking van oorsake anders as BVD.
5. Mukosasiekte.
Dit is 'n dodelike siekte aangetref in jong diere en word gekenmerk deur erge bloederige diarree asook erosie en ulserasie van die slymvliese van die spysverteringstelsel. Mukosasiekte ontstaan wanneer 'n kroniese draer, besmet met die nie-sitopatogeniese virus, wel infeksie van die sitopatogeniese virus opdoen.
Kalf met gebrekkige koördinasie
Fig. 1: Jong kalf met onderontwikkelde kleinbrein. Let op hoe wyd die kalf se pote geplant is om balans te probeer behou.

Onderontwikkelde kleinbrein
Fig. 2: Erge onderontwikkelde kleinbrein in 'n kalf wat voor geboorte besmet is met die BVD-virus. Die kleinbrein is gewoonlik 3 tot 4 keer groter as in dié geval.

BEHEER

Daar is twee benaderings nl:

1. BVD-vry kudde

Om dit te bereik en te handhaaf moet die kudde getoets word en enige dier met blywende infeksies verwyder word. Daarna moet slegs beeste wat skoon toets in die kudde ingebring word. Onthou dat bulle BVD deur middel van semen kan oordra en dus spesiale aandag gegee moet word dat koeie van rondloperbulle weggehou word.

2. Enting vir BVD-beheer

Enting met die dooie entstof kan aangewend word om aborsies en fetale misvormings te verhoed. Dit moet vroeg in dragtigheid gegee word om blootstelling aan die virus te verhoed. Jong kalwers word dan op speenouderdom ingeënt.


TIPES ENTSTOWWE

Die lewende entstof

Dit kan gebruik word vir diere waarmee nie geteel word soos voerkraalbeeste.Die lewende entstof moet nie vir dragtige diere of vir kalwers wat nog soog gebruik word nie. Die BVD-virus in die lewende entstof word gewoonlik gekombineer met ander virusse, soos aansteeklike beesrinotrageitis (IBR), parainfluenza 3 (PI3) en respiratoriese sinsitiale virus om respiratoriese siektes wat deur hierdie virusse veroorsaak word te verhoed. Die primêre inenting word toegedien met die tweede dosis 4 weke later.

Die dooie of geïnaktiveerde entstof

Hierdie entstof kan vir alle beeste, dragtiges ingesluit, gegee word. Kalwers van geënte koeie sal passiewe immuniteit besit, en dus behoort hulle eers op ses maande ouderdom die enting te kry.Indien kalwers voor ses maande geënt word, moet hulle weer op ses maande geënt word. Die nadeel van die dooie entstof is dat dit jaarliks herhaal moet word.

In die praktyk kan vervangingsverse ingeënt word met die lewendige entstof op 8 maande en 'n skraagdosis een maand later. Hierna behoort sy hopelik lewenslank immuun te wees. Koeie kan òf jaarliks met die dooie entstof geënt word òf met die lewendige entstof in die periode tussen kalwing en voor sy weer bul toe gaan. Hier behoort twee entings 'n jaar uitmekaar met die lewende entstof ook 'n lewenslange immuniteit te gee.


TEN SLOTTE

Neem kennis dat BVD wel in die Rustenburgomgewing voorkom en dit u die moeite sal loon om voorsorg daarteen te tref. Kontak u plaaslike veearts vir meer besonderhede oor hierdie siekte en veral oor die inentingsprogram wat geskik sal wees vir u kudde.


Erkenning vir foto's:
Bristol Biomedical Image Archive © 1999 Universiteit van Bristol




Terug na bokant van bladsy