
1. Op watter ouderdom word hondjies se sterte afgesit?
2. Op watter ouderdom word vroulike diere gesteriliseer?
3. Moet 'n teef eers op hitte gaan voor sy gesteriliseer word?
4. Wat is die nadele van sterilisasie?
5. Op watter ouderdom word reuns gekastreer?
6. Op watter ouderdom word katmannetjies gekastreer?
7. Sal 'n reun minder aggressief wees na kastrasie?
8. Op watter ouderdom word hondjies geënt?
9. Hoe kry honde katgriep?
10. Hoe kry ek die katgriepvirus uit my erf?
Die Suid-Afrikaanse Veeartsraad het die afsit van honde se sterte om blote kosmetiese redes as ongewens verklaar vanaf 1 Junie 2008. Veeartse sal voortaan die prosedure slegs uitvoer indien dit absoluut noodsaaklik is, by voorbeeld wanneer kanker van die stert voorkom of die stert onherstelbaar in 'n ongeluk beskadig is.
Beide honde en katte word op ongeveer ses maande oud gesteriliseer, m.a.w. voordat hulle op hitte gaan. Die operasie is moeiliker as die dier reeds op hitte is en daar is meer kans op komplikasies.
Dit is nie nodig dat 'n teef eers kleintjies kry of selfs op hitte gaan voor sterilisasie nie. 'n Teef wat na hitte gesteriliseer word het 'n heelwat groter kans om melkkliergewasse te ontwikkel. Die operasie is ook aansienlik moeiliker en gevaarliker tydens hitte aangesien die bloedtoevoer na die baarmoeder dan geweldig verhoog.
Die twee groot nadele is vetsug en 'n lekkende blaas. Eersgenoemde kan maklik voorkom word deur die teef se dieet aan te pas en haar genoeg oefening te laat kry. Laasgenoemde gebeur bitter selde en kan maklik met medikasie reggestel word.
Reuns kan so vroeg as vier maande gekastreer word, maar dit kan uitgestel word tot ongeveer tien maande om die reun kans te gee om behoorlik te ontwikkel. Indien die reun toegang het tot vatbare tewe is dit wenslik om die kastrasie te doen voordat dit 'n ongewenste werpsel tot gevolg het.
Aangesien die blase van katmannetjies maklik verstop raak deur blaasstene is dit wenslik om hulle eers op twaalf maande te kastreer. As die kat egter begin rondloop of sproei is dit 'n teken dat hy genoegsaam ontwikkel is om wel te kastreer. Die moderne katkosse wat by veeartse te kry is, is spesiaal geformuleer om katte se blase gesond te hou en word dus aanbeveel vir gekastreerde katte.
In die oorgrote meerderheid van gevalle sal kastrasie wel verminderde aggressie tot gevolg hê. Dit is in elk geval wenslik om nie met oormatig aggressiewe honde te teel nie aangesien dit 'n oorerflike eienskap is.
In hierdie praktyk word hondjies op ses weke, tien weke en veertien weke geënt. Die inentingskedule kan grootliks verskil van veearts tot veearts, dus is die beste om u eie veaarts te kontak vir 'n program. In die Artikel oor inenting van honde en katte kan u meer oor inenting lees.
Die siekte word deur 'n virus veroorsaak wat in die braaksel en mis van siek honde voorkom. Die virus is baie gehard en moeilik om uit te roei. U kan meer hieroor in die Artikel oor katgriep lees.
Die katgriepvirus (Parvovirus) is een van die taaiste virusse bekend. Wasbare oppervlakke soos teëls en beton kan met chloor, formalien of 'n sterk ontsmetmiddel gereinig word. (Kontak u veearts vir meer besonderhede). In ander oppervlakke soos gras, grond en matte kan die virus vir etlike maande oorleef. Maak seker dat enige nuwe honde ten minste twee maal teen die siekte geënt is met die laaste enting twee weke voordat hulle op die perseel kom.