Dr G Gaigher BVSc.
Daar moet onthou word dat die bul die belangrikste skakel in die ketting is vir die verkryging van die maksimum aantal kalwers in 'n gegewe dekseisoen. Dit is dus logies om seker te maak dat bulle vrugbaar en dekbehendig is voor die dekseisoen, asook dat hulle aangepas is in hul omgewing.
Nuwe bulle moet verkieslik 'n paar maande voor die dekseisoen aangekoop word sodat hulle behoorlik kan aanpas op die nuwe plaas en nie meer onder stres sal wees a.g.v. vreemde bulle en koeie nie. In meerbul paartroppe moet die bulle voor die dekseisoen saamloop sodat hulle rangorde voor die dekseisoen reeds uitgesorteer is en en hulle dus nie begin baklei in die dekseisoen nie.
Die toets van bulle vir vrugbaarheid voor die dekseisoen word aanbeveel. Daar moet onthou word dat 'n subfertiele bul baie groot skade kan aanrig in die dekseisoen aangesien die bul moontlik dominant kan wees en dus die ander bulle weg kan hou van die koeie.('n Subfertiele bul is een wat semen van swak kwaliteit produseer en min koeie dragtig sal hê na die dekseisoen.)
Sorg ook dat bulle in 'n goeie kondisie is voor die dekseisoen, maar nie oorvet nie. Oorvet bulle se saadkwaliteit is dikwels nie na wense nie a.g.v. vetaanpakking om die skrotum en hulle is ook nie so aktief nie.
Een volwasse bul kan 25-30 koeie dek in 'n 3 maande dekseisoen. Jong bulle moet goed opgepas word in die dekseisoen en verkieslik nie meer as 20-25 koeie kry om te dek nie, aangesien hulle nog besig is om te groei.
Ent die bulle teen Campylobacter ( Vibriose ) met 'n dubbele dosis ten minste 3 maande voor die dekseisoen. Maak ook seker dat hulle ingespuit is teen Knopvelsiekte aangesien dit 'n siekte is wat hulle steriel kan maak. Toets bulle voor die dekseisoen vir Campylobacter en Trichomonas indien daar probleme met vrugbaarheid in die kudde is. Toets veral nuwe bulle wat ingekoop word, veral bulle wat reeds gewerk het in ander kuddes.
Daar moet onthou word dat enige koorsreaksie 'n bul tydelik steriel kan maak en dat dit dikwels 2-3 maande neem vir so 'n bul om weer saad van goeie kwaliteit te lewer.
Die beplanning van die dekseisoen is van groot belang en moet die volgende paar punte in gedagte gehou word. Die ideaal is dat 'n teelkoei elke jaar van haar voorplantingslewe 'n gesonde kalf sal produseer.
Verse moet een maand voor die koeie na die bulle gaan. Die rede hiervoor is dat hulle vroeg beset kan raak en na kalwing genoeg tyd het om te herstel om weer bronstig te raak sodat hulle binne 'n jaar weer kan kalf. Spesiale aandag moet aan verse geskenk word, veral gedurende die dragtigheidsperiode en die tyd na kalwing. Sit hulle op die beste weiding, maar verhoed dat hulle oorvet word in die laaste drie maande van dragtigheid. Die kalf in die baarmoeder groei die meeste in die laaste maande en oorvet diere kan moontlik kalwingsprobleme ondervind.
Neem die volgende beginsels in ag vir die dekseisoen.
Met goeie beplanning en spesiale aandag aan bulle en koeie/verse soos hier beskryf kan u verseker dat u boerdery winsgewend sal wees.