Dr W J Grobler BVSc.
Spirocerca lupi is die naam van 'n rooi wurm van ongeveer 40 mm lank wat hom gewoonlik tuismaak in die slukderm van honde. Oor die jare is hier in Rustenburg en omgewing elke nou en dan gevalle gesien, gewoonlik sowat twee tot drie per jaar, maar die afgelope paar maande het die prentjie drasties verander.
Vir die laaste ses maande van 2002 het ons meer gereeld honde gesien wat doodgaan of uitgesit moet word omdat hulle met dié wurm besmet is. Die doel van hierdie artikel is om honde-eienaars deeglik bewus te maak van hierdie probleem om sodoende 'n poging aan te wend om dit die hoof te bied. Die lewensiklus, simptome van besmetting, diagnose, behandeling en beheermaatreëls word hieronder bespreek.
Die eiers van Spirocerca kom in die mis van besmette honde voor waar dit deur miskruiers ingeneem word. In die miskruier ontwikkel die besmetlike stadiums van die wurm wat weer 'n hond kan besmet, of deur verskeie tussengashere soos fisante en akkedisse opgeneem word as hierdie diere die miskruiers sou eet. 'n Hond word dus besmet deur die eet van miskruiers, akkedisse of voëls soos fisante en patryse.
In die hond se maag breek die klein larfies uit hul omhulsels en begin dan deur die maagwand migreer tot in die slagaartjies om die maag. Hiervandaan beweeg hulle in die wand van die slagare tot in die aorta net agter die hart. Nou migreer hulle deur die aortawand tot in die slukdermwand waar hulle tot volwassenheid ontwikkel en weer eiers lê om die hele siklus te voltooi. Die hele lewensiklus duur ten minste ses maande, maar kan so lank as twee jaar neem!
Totdat die wurmlarwes die aorta bereik het, toon die hond geen simptome nie. Sodra die migrasie tot in die aorta gevorder het, kan aneurismes (blaasagtige uitstulpings wat 'n slagaar se wand verswak) in die aorta ontstaan. Bloedklonte kan in hierdie swak dele van die aorta vorm en indien hulle losraak, elders gaan vassteek, veral in die slagare van die agterbene met pyn en mankheid van die aangetaste ledemaat. Die aneurismes kan bars en dit lei tot die dood van die dier binne enkele oomblikke.
In die slukderm veroorsaak die teenwoordigheid van die wurms irritasie van die wand wat lei tot die vorming van verdikkings (granulome) in die slukdermwand. Hierdie verdikkings irriteer op hul beurt die slukderm en veroorsaak meestal terugstikking of braking. Die verskil tussen terugstikking en braking is dat die kos in die geval van terugstikking passief uit die slukderm kom, maar in die geval van braking met aktiewe sametrekking van die hond se buikspiere uit die maag gewerp word.
In uitsonderlike gevalle kan gewasse in die letsel ontstaan en soms word beenweefsel in die gewasse neergelê. Hierdie gewasse is gewoonlik kwaadaardig en kan op hul beurt na die longe versprei. 'n Baie interessante gevolg van sulke gewasse is die geweldige verdikking van die beenweefsel van die voor- en agterbene. (Sien Fig. 1)
![]() |
![]() |
| Fig. 1: Verdikking van die bene soortgelyk aan dié met Spirocerca lupi gesien | |
Aangesien die simptome gewoonlik vaag is, kan hierdie 'n moeilike diagnose wees. Indien dit enigsins vermoed word, word X-straalfoto's van die borskas geneem. Is daar geen duidelike tekens op die foto nie, word 'n kontrasmiddel per mond gegee en opvolgfoto's geneem. Dikwels word die letsels dan duidelik in die slukderm tussen die hart en diafragma gesien. (Sien Fig. 2)
![]() |
| Fig. 2: Die letsel van S. lupi soos op 'n X-straalfoto gesien.. |
'n Definitiewe diagnose kan ook met endoskopie (Die sluk van 'n "kamera") gedoen word, maar die apparaat is baie duur en word net in groter veeartshospitale gebruik. (Sien Fig. 3) Die eiers van die wurms kan met 'n misondersoek gevind word, maar aangesien hulle heelwat kleiner is as die gewone wurmeiers, is dit nie altyd akkuraat nie. 'n Hond mag ook duisende migrerende larwes in die slagare hê sonder dat daar 'n enkele eier in die mis voorkom.
![]() |
| Fig. 3: Vier granulome in die slukderm van 'n hond. |
Ongelukkig is die meeste algemene wurmmiddels nie effektief teen hierdie wurms nie. Indien so 'n besmetting vermoed word, kan 'n inspuitbare wurmmiddel bedoel vir beeste en skape daarteen gebruik word. Aangesien hierdie middel nie geregistreer is vir gebruik in honde nie, is daar 'n mate van risiko aan sodanige gebruik verbonde, maar hierdie risiko is gewoonlik baie kleiner as die voordeel wat daaruit verkry word. Proewe gedurende 2009 gedoen het bewys dat die aktiewe bestanddeel 'milbemisien' wel effektief is indien op 'n maandelikse basis toegedien. Hierdie middel is beskikbaar in tabletvorm, beide as kombinasie breëspektrumwurmmiddel en in kombinasie met 'n vlooibeheermiddel. (Kontak u veearts vir meer besonderhede). Indien 'n hond reeds besmet is, word die produk toegedien op dag 1, 7, 28 en dan maandeliks totdat die simptome opgeklaar het, maar die produk kan ook maandeliks voorkomend toegedien word.
Die skrywer het by menige geleentheid van die miskruiers wat op hondemis teer binne die dorpsgebied van Rustenburg opgemerk. Die belangrikste maatreël is dus die gereelde verwydering van hondemis vanaf die erf — verkieslik op 'n daaglikse basis. Die mis moet sodanig van ontslae geraak word dat insekte nie toegang daartoe het nie. Hierdie maatreël is veral belangrik by jong hondjies wat nuuskierig is en moontlik die miskruiers kan eet.
Aangesien die lewensiklus ten minste ses maande duur, behoort alle honde elke ses maande met 'n effektiewe middel behandel te word. Diere wat reeds op 'n maandelikse vlooibeheerprogram is, kan met gereelde tussenposes die middel met die ekstra ontwurming toegedien word. Bespreek gerus 'n voorkomingsprogram met u plaaslike veearts sodra u vir u hond se jaarlikse inenting gaan. Met al die troeteldiereienaars se hulp kan ons hierdie dreigende tydbom die hoof bied!
Erkenning vir fig. 3: Dept. Kleindierchirurgie, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.